Please visit Unistel Animal Services for more information.

Bokke met ‘goeie gene’ by veiling

Deur Charné Kemp Sondag 27 Julie 2014 8:47 nm. Media 24.
’nSaalrugblesbok soos dit in die 3G-wildveiling se katalogus verskyn. Foto: verskaf

KIMBERLEY. – Wildsbokke met tongknoopname, goeie genetika en unieke kleurkombinasies sal Woensdag op die gewilde 3G-veiling naby Jan Kempdorp te koop wees.

Noord-Kaapse wildveilings, wat sentraal geleë is, is reeds baie gewild by wildboere landswyd.

Bokke met tongknoopname soos wit saalrugblesbokke, koffie-, koper- en springbokke, bont blesbokke, wit volstruise, swart rooibokke, saalrugrooibokke en geel blesbokramme word aangebied

Volgens Aitjie van Wyk, logistieke bestuurder van 3G (Giant Genetic Group) en eienaar van Matopi Wild, is dit ’n voorreg om suksesvolle veilings in die Noord-Kaap te kan aanbied.

“Die onlangse Wintershoek Wild en Unyati-veiling naby Warrenton was ook ’n bewys dat veilings in die sentrale deel van die land gerieflik geleë is vir kopers en verkopers.”

Van Wyk het gesê die diere op die 3G-veiling is grootliks gewone wild (soos springbokke, gemsbokke en blesbokke), maar met besonderse genetika. Hy het vanjaar gemsbokke met besondere lang horings van tot 45 duim (114 cm).

Hy is baie opgewonde oor die wild met unieke kleurkombinasies.

“Ons is baie trots op al die springbokke wat ons aanbied, veral die koffiespringbok, wat dalk meer as R480 000 stuk kan behaal. Die wildbedryf is deesdae ook gaande oor blesbokke.”

Die bont blesbok is ’n wit blesbok met ’n bruin vlek, wat óf ’n derde óf die helfte van die bok kan beslaan.

Die saalrugblesbok wat vanjaar slegs vir die derde keer aangebied word, sal ook hier onder die hamer kom. Vorige bokke het al pryse van tot R7,8 miljoen behaal. Die geel blesbokke is ook gesog.

Sommige diere word al etlike jare lank geteel, maar is nou vir die eerste keer te koop aangebied.

Die veiling bied ook die beste diere van springboktelers in Suid-Afrika, Namibië en Botswana aan.

Verkopers en kopers van oor die hele land sal die veiling bywoon. Sowat 500 diere gaan opgeveil word, waarvan die helfte op die veilingsterrein sal wees. Diere soos renosters, leeus en bastergemsbokke is ook in die katalogus te sien.

“Ons keur alle diere vooraf om sover moontlik die beste genetika vir horinglengte en -vorm, liggaamsbou en ouderdom te verkry,” het Van Wyk gesê.